Nizjni Nowgorod

Vir ’n artikel oor die oblast met dieselfde naam, sien Nizjni Nowgorod-oblast.

Nizjni Nowgorod
Нижний Новгород

Ligging in Europa Wapen
Vlag
 Land Vlag van Rusland Rusland
 Oblast Nizjni Nowgorod
 Koördinate 56°20′N 44°0′O / 56.333°N 44.000°O / 56.333; 44.000
 Stigting 1221
 Stadstatus 1221
 Oppervlakte:  
 - Totaal 514,56 vk km
 Hoogte bo seevlak 200 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2018) 1 259 013
 - Bevolkingsdigtheid 2 400/vk km
 Tydsone UTC +3 (MSK)
 Burgemeester Joeri Sjalabaef
 Amptelike webwerf admgor.nnov.ru

Nizjni Nowgorod (Russies: Ни́жний Но́вгород) is ’n stad in Rusland wat in 1221 gestig is. Dit word kortliks Nizjni genoem en was van 1932 tot 1990 bekend as Gorki (Горький). Dit is die hoofstad van die Nizjni Nowgorod-oblast en die Federale Distrik Wolga. Dit het in 2020 ’n geraamde bevolking van meer as 1,2 miljoen gehad.[1]

Die stad is geleë by die samevloei van die Oka- en Wolgarivier in Sentraal-Rusland. Nizjni Nowgorod is die sesde grootste stad in Rusland en die tweede digs bevolkte stad aan die Wolga en in die federale distrik. Dit is ’n belangrike ekonomiese, wetenskaplike, opvoedkundige, kulturele en vervoersentrum in Rusland en die groot ekonomiese streek Wolga-Wjatka. Dit is ook die hoofsentrum van riviertoerisme in die land. In die historiese deel van die stad is baie universiteite, teaters, museums en kerke.

Die stad is op 4 Februarie 1221 gestig[2] deur prins Joeri II van Wladimir. In 1612 het Koezma Minin en prins Dmitri Pozjarski ’n leër hier byeengebring vir die bevryding van Moskou van die Pole. In 1817 het die stad ’n groot handelsentrum van die Russiese Ryk geword. In die tyd van die Sowjetunie is dit tot Gorki hernoem en het dit ’n belangrike nywerheidsentrum geword.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Luftwaffe die stad aanhoudend gebombardeer, omdat dit die grootste verskaffer van militêre toerusting vir die Oosfront was. Ná die oorlog was Gorki ’n geslote stad, tot in 1990. Dit het toe sy ou naam, Nizjni Nowgorod, teruggekry.

Die stad se kremlin bevat die belangrikste regeringsagentskappe in die federale distrik. Dit was een van die aanbiederstede van die Fifa-wêreldsokkerbekertoernooi in 2018.

  1. (en) "RUSSIA: Privolžskij Federal 'nyj Okrug: Volga Federal District". City Population.de. 4 Augustus 2020. Besoek op 2 Oktober 2020.
  2. (ru) Wladimir Koetsjin (2018). Десять веков Нижегородского края. 1152–2018. Vol. 3. Издательские решения. ISBN 978-5-4490-6270-3.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search